
Die UJ-pryse vir Afrikaans word toegeken aan uitnemende tekste in enige genre wat oorspronklik in Afrikaans geskryf is en in die vorige kalenderjaar verskyn het.
65 boeke wat in 2025 gepubliseer is, was vir hierdie jaar ingeskryf: 50 vir die UJ-prys en 15 vir die UJ-debuutprys.
Die UJ-pryse is in 2001 vir die eerste maal toegeken, toe as die RAU Mardene Maraisprys: die gevolg van die inisiatief en skenking van dr Fanie Marais van Cordis Trust. Sedert 2005, met die stigting van die Universiteit van Johannesburg, staan die pryse bekend as die UJ-pryse vir Afrikaans.
Vir die tweede agtereenvolgende jaar is geen dramatekste ingeskryf nie, terwyl ongeveer ’n derde van die inskrywings digbundels was: 20 in totaal, met 5 hiervan debute.
Die volgende boeke, alfabeties volgens outeur, is deur die beoordelaars uitgesonder vir die kortlyste van die 2026 UJ-pryse vir Afrikaans.
2026 UJ-debuutprys vir Afrikaans
- Ek’t / Act deur Klara du Plessis (Karavan Press)
- waar daar eens ‘n see was deur Jennifer Pape (Turksy Uitgewers)
- Kruiper – Crawler deur Shane van der Hoven (Uhlanga Press)
2026 UJ-prys vir Afrikaans
- Patmos – Willem Anker (Queillerie, Jonathan Ball)
- Kolam – Fourie Botha (Protea Boekhuis)
- Klein konings – Theo Kemp (Protea Boekhuis)
- Die binnerym van bloed – Antjie Krog (Penguin)
- Prins – Ryan Pedro (Kwela, Jonathan Ball)
Die kortlyste van die UJ-pryse het deur die jare goeie verteenwoordiging van digbundels getoon, maar dit is opvallend dat al drie titels op die kortlys vir die debuutprys, en ook twee titels op die kortlys vir die UJ-prys digbundels is. Dit is ook die eerste maal dat die kortlys vir die debuutprys slegs kleiner, onafhanklike uitgewerye verteenwoordig.
Van harte geluk aan die skrywers en uitgewers!
Die paneel beoordelaars vir die 2026 UJ-pryse vir Afrikaans, is prof Reinhard Fourie (UNISA), me Mercy Kannemeyer (UJ), dr Dewald Koen (NMU), dr Janien Linde (NWU), me Elodi Troskie (UK) en prof Karen de Wet (UJ, voorsitter).
Die aankondiging van die wenners word volgende week verwag.


Van harte geluk aan Klara!































