Persverklaring: Kortlyste vir Netwerk24 KykNET Rapport Boekpryse bekend

Nuwe toetreders skuur skouers met vorige wenners en benoemdes op die kortlyste vir vanjaar se Netwerk24 kykNET Rapport Boekpryse. 

Dié pryse, wat tans altesaam R1,4 miljoen beloop, word jaarliks toegeken vir Afrikaanse boeke en resensies wat in die voorafgaande kalenderjaar verskyn het. Vyf boekpryse is op die spel: ’n fiksieprys (vir romans), ’n niefiksieprys, die Breyten Breytenbach-prys vir digkuns, die Herman Binge-prys vir ’n werk met filmpotensiaal en die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- en tweede prosawerke. Twee resensiepryse word toegeken.

Twee voormalige wenners van die fiksieprys, Willem Anker en Gerda Taljaard, is vanjaar weer in dié kategorie benoem. Die niefiksiekortlys pryk ook met twee voormalige wenners: Dana Snyman en Marita van der Vyver, wat voorheen die filmprys gewen het.

In ’n uitsonderlike prestasie is PP Fourie soos in 2024 weer benoem vir sowel die filmprys as die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- en tweede werke.

Vanjaar se kortlyste is, in alfabetiese orde volgens skrywer:

FIKSIE

  • Patmos, Willem Anker (Queillerie)
  • Binnerym van bloed, Antjie Krog (Penguin Books)
  • Die grafdigter, Gerda Taljaard (Penguin Random House)

NIEFIKSIE

  • Wie de hel is Johnny Joubert?, Dana Snyman (Tafelberg)
  • My jaar van vrees en vryheid, Marita van der Vyver (Human & Rousseau)
  • Spanje: Reise in ’n palimpses, André Pretorius(Naledi)

BREYTEN BREYTENBACH-PRYS VIR DIGKUNS

  • Ek’t Act, Klara du Plessis (Karavan Press)
  • Kolam, Fourie Botha (Protea)
  • vloei/stof, Gilbert Gibson (Protea)

JAN RABIE-RAPPORTPRYS VIR DEBUUT- EN TWEEDE PROSAWERKE

  • Op pad na ’n klooster in die sneeu, Johannes de Villiers (Human & Rousseau)
  • Die dood van Rachel April, PP Fourie (Queillerie)
  • ’n Jaar in my lewe, Louis Pretorius (LAPA Uitgewers)

HERMAN BINGE-PRYS VIR FILM

  • Die dood van Rachel April, PP Fourie (Queillerie)
  • Klein konings, Theo Kemp (Protea)
  • Ontvoer, Constant van der Merwe (Queillerie)

Altesaam 68 inskrywings is ontvang vir die vyf pryse wat ten doel het om erkenning te gee aan Afrikaanse skrywers en hulle aan te spoor om gehalteskryfwerk in hul moedertaal te lewer.

“Daar was groot wins vir Afrikaans in 2025,” sê die sameroeper van die pryse, Hettie Scholtz. “Die kruin van vanjaar se inskrywings het getuig van genre-tergende, waagmoedige boeke van besonder hoë literêre gehalte. In elkeen van die kategorieë het die skrywers op die kortlyste met uitsonderlike vakmanskap ritme en kadens uit die taal getoor en dit vernuftig verruim.

“By die digkuns was dit veral opvallend hoe aandagtig daar met taal omgegaan is. ’n Verrassing was ook die vars bries van diaspora-letterkunde  wat verder bewys lewer dat Afrikaans ’n lewendige  taal is wat kan deelneem aan die kontemporêre gesprek in die Suid-Afrikaanse en wêreldletterkunde.”

Die individuele prysgeld beloop R350 000 elk vir die roman- en niefiksieprys onderskeidelik, R200 000 elk vir die Breyten Breytenbach-prys, die Herman Binge-prys en die Jan Rabie-Rapportprys, en R50 000 elk vir die resensiepryse vir fiksie en niefiksie onderskeidelik. Die kortlyste vir die resensiepryse word binnekort aangekondig.

Die wenners word op 26 September 2026 bekend gemaak tydens ’n funksie by die Mount Nelson Hotel in Kaapstad.

Die keurpanele vir die boekpryse was: Fiksie: Deborah Steinmair, Jean Meiring, Ryan Pedro en Beer Adriaanse; Niefiksie: Frederik de Jager, Marga Stoffer, Kerneels Breytenbach en Kirby van der Merwe; Breyten Breytenbach-prys vir digkuns: Louise Viljoen, Johan Myburg, Ronelda Kamfer en Alfred Schaffer; Herman Binge-filmprys: Beer Adriaanse, Wikus du Toit en Kerneels Breytenbach; Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- en tweede prosawerke: Andries Bezuidenhout, Mercy Kannemeyer en Danie Marais.

2026 UJ-pryse vir Afrikaans: KORTLYSTE

Die UJ-pryse vir Afrikaans word toegeken aan uitnemende tekste in enige genre wat oorspronklik in Afrikaans geskryf is en in die vorige kalenderjaar verskyn het.

65 boeke wat in 2025 gepubliseer is, was vir hierdie jaar ingeskryf: 50 vir die UJ-prys en 15 vir die UJ-debuutprys.

Die UJ-pryse is in 2001 vir die eerste maal toegeken, toe as die RAU Mardene Maraisprys: die gevolg van die inisiatief en skenking van dr Fanie Marais van Cordis Trust. Sedert 2005, met die stigting van die Universiteit van Johannesburg, staan die pryse bekend as die UJ-pryse vir Afrikaans.

Vir die tweede agtereenvolgende jaar is geen dramatekste ingeskryf nie, terwyl ongeveer ’n derde van die inskrywings digbundels was: 20 in totaal, met 5 hiervan debute. 

Die volgende boeke, alfabeties volgens outeur, is deur die beoordelaars uitgesonder vir die kortlyste van die 2026 UJ-pryse vir Afrikaans.

2026 UJ-debuutprys vir Afrikaans

  • Ek’t / Act deur Klara du Plessis (Karavan Press)
  • waar daar eens ‘n see was deur Jennifer Pape (Turksy Uitgewers)
  • Kruiper – Crawler deur Shane van der Hoven (Uhlanga Press)

2026 UJ-prys vir Afrikaans

  • Patmos – Willem Anker (Queillerie, Jonathan Ball)
  • Kolam – Fourie Botha (Protea Boekhuis)
  • Klein konings – Theo Kemp (Protea Boekhuis)
  • Die binnerym van bloed – Antjie Krog (Penguin)
  • Prins – Ryan Pedro (Kwela, Jonathan Ball)

Die kortlyste van die UJ-pryse het deur die jare goeie verteenwoordiging van digbundels getoon, maar dit is opvallend dat al drie titels op die kortlys vir die debuutprys, en ook twee titels op die kortlys vir die UJ-prys digbundels is. Dit is ook die eerste maal dat die kortlys vir die debuutprys slegs kleiner, onafhanklike uitgewerye verteenwoordig.

Van harte geluk aan die skrywers en uitgewers!

Die paneel beoordelaars vir die 2026 UJ-pryse vir Afrikaans, is prof Reinhard Fourie (UNISA), me Mercy Kannemeyer (UJ), dr Dewald Koen (NMU), dr Janien Linde (NWU), me Elodi Troskie (UK) en prof Karen de Wet (UJ, voorsitter).

Die aankondiging van die wenners word volgende week verwag.

Van harte geluk aan Klara!

Klara du Plessis at Woordfees

Talle tale

Beskrywing

Klara du Plessis (Act/Ek’t) is ’n digter wat tussen tale glip: die Afrikaans
van haar kinderdae en die Engels van haar volwasse lewe in Kanada.
Pieter Madibuseng Odendaal se huwelik met die Peruaanse digter Jorge Alejandro
Ccoyllurpuma het tot wedersydse vertalings in Spaans en Engels gelei, en
Pieter se Afrikaanse gedigte is ook nou in Engels vertaal en gebundel as a corpse is
also a garden
. Die Vlaamse digter Frank Keizer lees voor uit sy werk, wat met
min moeite deur Afrikaanssprekendes verstaan kan word.

Aangebied deur Karavan Press, uhlanga, Jakes Gerwel-stigting

Datum en Tyd: 12/10/2025 | 16:00

Venue: EasyEquities Skrywerskamer

For details and tickets, please see: Woordfees