

Netwerk24 kykNET Rapport Breyten Breytenbach-prys vir digkuns 2026
Wenner: Klara du Plessis vir Ek’t Act (Karavan Press)
Commendatio: Ronelda Kamfer
Klara du Plessis se Ek’t Act verteenwoordig ’n belangrike verskuiwing in die nuwer diaspora-literatuur. Dit breek weg van die sentimentele, voorspelbare gegriefdheid en nostalgie van Suid-Afrikaners wat in die buiteland verlang na ’n idolized verlede wat in werklikheid nooit so bestaan het nie.
Wanneer die beoordelingskriteria vra of ’n bundel die leser met ’n helder stem betower, is die antwoord ja. Dit is egter ’n betowering wat gestroop is van pretensie en goedkoop sentiment. Afrikaans word ontwortel en in ’n vreemde, meertalige konteks geplaas waar dit moet veg vir eie meaning. Die leser word gedwing om die ongemak van verplasing self te ervaar. Du Plessis gebruik taal as ’n argitektoniese materiaal, die wyse waarop Afrikaans, Engels en die stiltes tussenin bots, getuig van ’n deurtastende begrip van die meganika van vertaling en taalkundige hibriditeit. Dit is ’n bundel wat Afrikaans uit sy selfbesorgde isolasie haal en in gesprek plaas met globale debatte. Dit is nie ’n museumstuk nie, maar ’n lewendige, buigsame medium.
Hierdie werk herinner ons aan wat poësie wesenlik behoort te wees. Antjie Krog het eenkeer gesê:
“om te kan skryf moet ek myself binne kom
deur my te buite te gaan
ek verlaat die daglig
die sleur van gefabriseerde stemme
en gaan ondergronds”
’n Ingetoë, noodsaaklike proses van selfondersoek en dokumentasie. In ’n era waar die cult van prestasie en verhooggeraas die inherente betekenis van die kunsvorm dikwels overshadow, moet digters kies om die dokumentering van menslike ervaring bo die spektakel te stel.
As digters moet ons leer om terug te staan, die gaze moet uitzoom sodat ons weer stil waarnemers kan word van die wêreld wat ons bewoon. Ons moet krities vra of die literatuur steeds in die regte rigting groei. Want op die mees fundamentele vlak is poësie nie ’n loud performance nie, dit is ’n fluistering, soos die wind, met stil krag wat net gehoor word wanneer ons ophou om te roep.
Klara du Plessis speel met daai stilte en krag. Vir haar moed, tegniese vernuf en visie om Afrikaans sonder om verskoning te maak in die wêreld te herbepaal, behoort die Breytenbach-prys aan haar. Dit is ’n ereloon wat die nalatenskap dra van Breyten Breytenbach, ’n skrywer wie se eie geskiedenis van exile en isolation en internasionale relevansie die verhoog geskep het waarop Afrikaans as ’n wêreldtaal van verset, vryheid en genuanseerde menslikheid kan staan.
